Afrikaans Top

Danie Theron Standbeeld

danieDié oorspronklike veselglas-beeld van die bobaasverkenner, Danie Theron, is op 1 November 1969 deur die destydse Minister van Verdediging, mnr. P. W. Botha, by die Danie Theron Krygskool in Kimberley onthul. Teen die tyd dat die Krygskool in 1989 na Potchefstroom geskuif het, was die beeld verwaarloos en is daar besluit om dit nie saam te neem nie.

Die beeld is daarna gerestoureer deur AO Koos Eksteen en op 4 November 1995 deur die destydse hoof van die SA Nasionale Weermag, genl. G. Meiring, onthul.

Die beeld het sedertdien sy eintlike doel van oprigting in Kimberley verloor, aangesien die Krygskool ontbind het.

Om hierdie rede het die SA Nasionale Weermag besluit om die beeld aan die Voortrekkermonument te skenk. Dit is op Donderdag 29 November 2001 hier by Fort Schanskop in posisie geplaas. Op 6 Maart 2002 is die beeld deur die direkte nasate van Danie Theron onthul. Tydens die seremonie het die voormalige President, mnr. Nelson Mandela, hulde aan die Boerestryder gebring.

Die beeld kyk in die rigting van Gatsrand tussen Potchefstroom en Johannesburg, waar Danie Theron op 5 September 1900 gesneuwel het. Theron is op die plek waar hy gesneuwel het begrawe, maar is later, langs sy verloofde Hannie Neethling, ten suide van Johannesburg herbegrawe.

TEGNIESE BESONDERHEDE:

Beeldhouer: Charl Engela, 1969
Materiaal: Mengsel van aluminium en klei
Gewig: Ongeveer 3 ton
Gerestoureer deur: Alusaf Bayview, Richards Bay,1995

Website Maintenance by Pretoria Web Design